Tekste

Plant ‘n blomtuin in jou kop

Daar is net een plek in die hele wye wêreld wat net aan jouself behoort, en dis jou kop – jou gedagtes. Mens se hart is soos ‘n wilde woestynperd, wat jou op looptou neem agter liefde en hartseer en pyn en instink en geluk en teleurstelling aan, met jou wat met die beste wil in die wêreld altyd agterna moet kom. Want ‘n hart laat hom nie voorsê nie, dis jou voel. En dis ok. En mens se lyf is ‘n uitleen – vir werk, of kinders liefhê, of lovers vashou, of gunste doen, of mense aanry, of inkopiesakke aandra, of brood bak of brekvis maak en die lewe leef. Maar jou kop is jou dink… JOU dink. Daarom moet jy altyd met die grootste Mooi voor jou dink gaan staan, en oor jou gedagtes waak. Dis JOU plek van vrede, jou plek van rus, jou space. En dis ook die plek waar jou Glo begin (of eindig). Vergewe jouself, prys jouself, droom mooi van jou vorentoe, gaan dapper met jouself om. En spreek lewe uit oor jou lewe, en oor jouself. Nie verdoemenis en onheil, en siekte, en dood nie. Maar lewe. Gaan sit vandag en trek daai onkruid uit, al daai leuens wat jy jouself laat glo, want dit hoort in die land van dood, nie in die land van Lewe nie. En plant ‘n blomtuin in jou kop. Een wat mooi maak, en lekker voel, en joy bring, en jou meer laat word – nie minder nie. Waak oor jou gedagtes, en maak jou kop ‘n plek van vrede. Want daai space is net joune, your place of safety. Vandag, en elke dag van jou lewe. © hekelwoorde van my hart

Plant ‘n blomtuin in jou kop Read More »

Wind

Die wind waai vandag so hard dat dit my drome kan kom wegwaai. ‘n Sidderplek wat nerwend knaag in gate van my hart, my aan my sleepses saligheid kom rondruk soos ‘n wapperende wasgoedlyn. Drade onheil wat langsamerhand soos stof kom lê… van die vensterbanke val … op die vloerplanke aangewaai kom…. en dan kom plak. Stom en taai aan die toue van weemoedigheid kom vasgrawe, tentakels begin inspan, grou ek my drome vas,  grypend vasklou, bepeins, beloer. Afspoeg, dan blinksmeer, poleer en weer wegsit in my weerprobeer, veilige donker plek.  Die woeiende wind amper my drome kom afgryp, saam met die ander afgeremdes se stofkinners kom wegwaai vandag.© HEKELWOORDE 

Wind Read More »

Wanneer is genoeg uiteindelik genoeg?

So wanneer is genoeg uiteindelik genoeg? As jou rieme deurgeloop is en jou tong hang op die grond? Of jou woorde is op, jou knieë deurgekruip, jou hart uitgedop, jou oë al reg agteroor omgerol tot weer voor van kannie-meer-nie . . . is genoeg dán genoeg? En as jy nog ʼn knertsie oor het om te gee, moet jy nóg harder en verder probeer, of mag jy uiteindelik gaan, oorgee, opstaan, smeek, sê hoe jy voel, huil, wegloop, bly? Genoeg is nie genoeg as jy nie meer een tree voor die ander kan gee nie, want mens kan altyd nóg bietjie verder. Dis maar net hoe die groot Skepper ons gemaak het . . . vir oorlewing. Genoeg is genoeg die dag as jy wéét dat jy weet. Dis al. En wonder is nie weet nie. Nét weet is weet. Weet het ’n manier hoe dit kom sit in jou lyf; dit voel soos geen ander gevoel nie. Dit voel soos stilte, nie soos oorlog nie. Dit voel soos krag, nie soos moeg nie. Dit voel soos opstaan, nie soos gaan lê nie. Dit voel soos berusting, nie soos betwyfeling nie. Want weet is die laaste druppel in die volste emmers van genoeg. En dis vorentoe, nooit weer agtertoe nie. En daardie dag sal jy met ’n sagte stem hoef te praat, en jy sal duidelik gehoor word, want jou waarheid sal die pad soos die Rooisee voor jou oopkloof. En jy sal jou ken kan lig, en daai ding doen. Uiteindelik. Want weet voel soos dapper. Meeste van alles voel weet soos dapper. Die dag as jy met jou weet voor jou wonder kan staan dan, en met jou dapper voor jou bang, dáárdie sal die dag wees wat genoeg uiteindelik vir jou genoeg sal wees. © Hekelwoorde  

Wanneer is genoeg uiteindelik genoeg? Read More »

Die wonderlike blessing van mans in ons lewe

Daar is gifts wat in mans se lywe rondloop wat net lekkerder gegee kan word deur ‘n man as deur ‘n vrou – en ek praat nou nie van die baie ooglopende gift van seksualiteit nie, alhoewel daardie lekkerte seersekerlik nie te versmaai is nie. Ek praat hier van die voorreg om deur die energie van ‘n goeie man omarm te word. Daar is byvoorbeeld min dinge so lekker as om styf deur ‘n man vasgehou te word, soveel te meer ‘n man wat lekker ruik; ‘n Vriend wat jou omsingel met liefhê, ‘n geliefde wat jou koester in veiligwees, ‘n pa wat wonde afstof en spoegsmeer na ‘n fietsval en jou optel en huis toe dra, ‘n man wat jou ordentlik vashou en stuur op ‘n dansvloer. Vrouens is van die begin van tyd af gekerf na daardie lekkerte, en my lewe is deurdrenk van wonderlike mans wat styf en ordentlik kan vashou: pietes en jacos en atties en leons en pappas en george’ s en vele meer, pragtige siele wat my kan intrek in die veiligwees van hulle arms in. Om net te land. Weg te raak in die ruimte van hulle genade. Net vir ‘n oomblik. Ek eer die lekkerte van ‘n man wat jou laat sit terwyl hy vir jou ‘n vuur bou, jou glas en jou hart volmaak, tjoppies met ‘n crispy vetjie braai, rib wat soos murg smelt, vis wat soos see proe, die daglange nurse van ‘n pot. Kosgemaakte liefde wat voorgesit word deur ‘n man laat mens sag voel, vroulik, geborge, versorg. Daar is iets primitief aan die lekkerte om by ‘n man te sit wat vir jou vleis op ‘n vuur gaarmaak. My hart word salf gesmeer daarmee. Die genade in die opdaag van ‘n man wat voor ‘n stukkende kar kom staan, sy sambreel van kennis oor jouvulnerable vrouwees langs ‘n pad kom span, my weer veilig op my pad stuur. Mans wat die vuur in my dak kom blus, die strelitzia wat in my geut groei in my tuin kom plant, die stukkend venster vervang sonder om ‘n woord te sê, vir my ‘n nuwe saal vir my fiets maak en kom opsit. En dan is daar die mans wat my mentors is. Die siele wat soos groot kremetartbome hulleself kom plant voor my probleme en na my luister, bepeins, beredeneer, my uitlei. Soos hoekpale hulself om my weerloosheid kom span en my kraal toehou, bewaak, beskerm. Wat is die lank en kort daarvan vir my? Ek is een van daardie vrouens wat meeste van die dinge van ‘n man moet doen, maar ook kan doen – ek kan vuur maak, wyn skink, hout aandra, in ‘n zoom meeting saam met mans redeneer, die wiel vervang, tent opslaan, kettie skiet, waentjie hak, pak, en reverse. Namibië toe ry. Maar soms is ek op-geman. Want ons vrouens wat ook moet manwees raak altyd iewers op-geman. En dan is daar geen groter lekkerte in die hele wêreld as ‘n goeie man wat opdaag, en sy arms om jou lewe of hart of probleem of huis of liggaam of seer of feilbaarheid of trane of probleem of grense of vrouwees kom span nie. Want dis slegs in daardie ruimte wat ‘n vrou regtig kan wegsmelt en soos ‘n vrou kan voel. Al is dit net vir ‘n oomblik. Daarom eer ek vandag my eie pa, een van die heel grootste siele in my lewe, die man wat my self gevang het toe ek gebore is, en my van altyd af geleer het hoe veilig, veilig regtig kan voel. En ek eer al die ander goeie mans in my lewe, die hele lang linie van sterk siele wat altyd net opdaag en hulself om my lewe kom span. Dis soos salf vir my as vrou, om soms in die groot skaduwee van julle manwees te kan uitspan en rus. My lewe sal nie dieselfde wees sonder julle nie. © Hekelwoorde

Die wonderlike blessing van mans in ons lewe Read More »

Gefok Maar Gefokus

(krrrrru taal, so blaai asb verby as jy ‘n sensitiewe leser is, of vir my gaan preek daaroor) “GEFOK MAAR GEFOKUS.” So eindig hierdie drie woorde hierdie week in my inbox van Stefanie Keyser af. Powerful shit. Ek verbeel my as jy besig is om jou besigheid te verloor en iemand vra jou hoe dit gaan, kan jy beleefd antwoord en sê: “gefok, maar gefokus”. Of as jy jou been in ‘n krul gebreek het na ‘n fietsval teen ‘n gletser af, en vriende kom kuier in die hospitaal en vra hoe dit gaan, kan jy sê: “gefok, maar gefokus”. As jy die geveg van jou lewe teen fase 4 kanker veg, en jou bestie bel om te vra hoe dit gaan, kan jy sê : “gefok, maar gefokus. As jou vrou met die skoolhoof wegloop en die kinders saamvat, en iemand kom met ‘n bak lasagne by jou huis en vra hoe dit gaan, kan jy sê: “gefok, maar gefokus”. Om vir iemand wat jou vra hoe dit gaan te sê “dit gaan goed” terwyl jy suffer, is bitter ordentlik maar baie unauthentic – eintlik ‘n blatante leuen. Daardie persoon wat belanggestel het gaan wegloop en geen idee hê hoe dit regtig met jou gaan nie. En om vir iemand wat vra hoe dit gaan te sê “dit gaan ellendig sleg, ek huil elke aand myself aan die slaap en trek my toonnaels af in die bad”, is te veel inligting …. en dalk meer as wat ‘n vêrlangse vreemdeling sal wil hoor. Al is dit waar. Die middeweg? Die middeweg is “Gefok, maar gefokus”. Want dit sê alles, die hele storie in drie woorde. Dit sê eks in my moer, oor die krans geval in my glory in. Maar dit sê ook ek is ok, reg vir die challenge, en ek is staande. Ek is gefok maar gefokus. Moertoe maar Moedig. So al is dit skreeulelike taal is dit skreeufantasties effektief. Geskik vir jou arsenaal van magtige woorde. Want dit gee enorme agting aan die magtelose ellendige posisie waarin jy jou bevind, maar terselfdertyd gee dit volle krag aan jou vermoë en jou intensie om dit te oorwin. So hoe gaan dit met jou? Gefok maar gefokus, dankie. En met jou? © HEKELWOORDE™

Gefok Maar Gefokus Read More »

Oudtshoorn

My vriend Jaco Vorster is ‘n dromer. Hy droom van mooi Mercedes Benze, ‘n moderne ou huis met ‘n Aga stoof en glasmure, net genoeg kamers dat die vrede altyd die aantal gaste sal kan inhol, hoë koorsbome wat welig hemel toe groei, en ‘n lewensmaat wat al die jaarringe van sy lewe sal kan deurstaan. Soms droom ons saam oor die perfekte steak, of hoeveel botter mens op ‘n broodjie mag eet, of ons praat oor Hollandaisesous resepte of die mooi boom by daardie perfekte grondpad se afdraai. Ander kere oor eksotiese lande met kosname waarvoor dat nie klinkers in Afrikaans bestaan nie. Maar meestal praat ons oor ons voel en oor mense, en dan praat ons oor die onsigbare wêreld van hoop. Want my vriend Jaco Vorster droom van ‘n pragtige Suid-Afrika, en meer spesifiek droom hy oor ons dorp. Ons Oudtshoorn. Nie omdat ons paaie fantasties is, of ons munisipaliteit ons rates beheer of ons ondergrondse waterpype in stand hou nie. Ook nie omdat mens noodwendig meer in die middel van die nag alleen deur die strate kan loop, of omdat al die geld wat ingesamel word noodwendig ooit weer belê sal word in die dorp nie. Nope. Jaco Vorster en baie ander Oudtshoorniete soos hy glo in Oudtshoorn omdat ons onmiskenbaar glo in die mense van ons dorp, ons gemeenskap, en omdat die hoop van hierdie mense al ‘n vuur aan die brand gesteek het ‘n tjop sal kan gaarkry op braaidag, of mens se voete sal kan warmhou in die winter, of genoeg lig vir ‘n loadshedding se lees sal kan gee. En soos die olimpiese fakkel het hierdie Hoop al deur ons strate begin vloei, en soos die riviere van die wêreld deur die harte van ons mense se are begin pols. Ons het Hoop omdat daar soveel Oudtshoorniete begin eienaarskap neem het vir die drome van ons dorp. Omdat dames soos Harriet Samson en Anita Stanley en vele ander elke dag met ‘n lied in hulle hart opdaag om ons dorpsingang se tuine te versorg. Ons het hoop omdat iemand soos Madelein Miles die reWOLusie begin, en elke wolliefhebber en hekelpotensialis in Oudtshoorn kon kry om pen en drome in eie hande te neem en die dorp toe te hekel vir die KKNK, binne in ‘n Blou Fiesta toekenning in. Ons droom groot oor Jaco se Trees of Hope projek waar ons 100,000 bome binne 5 jaar gaan plant – sodat óns dorp ook oor 20 jaar ‘n before en after op ‘n satelietfoto kan wees. Ons laat onsself toe om te Hoop oor iemand soos Susan Botha se Trash# projek waar besighede en inwoners van die dorp bymekaarkom en papiere in die riviere optel, omdat ons wil trots wees op al ons mooi. Ons salute die mense soos Leon Campher se vertelkringe wat kinderhandjies op palisade saam met ander gaan verhewig, sodat inwoners sal wil hê die heining langs die pad moet bly en nie sal wil hê dit moet wegdra nie. Mense soos Jan en Annelize Vlok wat tuinprentjies vir ons hele dorp se straattuine gedroom en elke dag in die regtig dit lewendig begin maak. ‘n Kunstenaar soos Fonnie Alfonso wat vra vir verf sodat hy sy mooi graffiti op ons lelike mure kan begin mooi. Ludwig Swanepoel wat in sy eie tyd die bome snoei en die takke se lyne begin rigting wys. Die lys van mense in ons dorp wat met hulle eie aksies voor stap gaan aan en aan. Mense wat opdaag om bome water te gooi. Mense wat steggies maak om bome te skenk. Mense wat opdaag met grawe om net die gate te grawe. En daarom mag ons droom. Daarom mag ons Hoop. Want ons môre is veel groter as ons nou, en ons Moed veel groter as ons Opgee. Oudtshoorn is deur ons mense ingeskryf vir Kwêla se dorp van die jaar. Nie oor hoe dit nou is nie, maar oor die mense van die dorp se commitment oor hoe dit gaan wees. Want ons môre is veel groter as ons nou. Ons drome veel groter as ons probleme. En ons Moed is veel groter as ons Opgee. So as jy nie weet vir wie om te hoop nie, Hoop vir Oudtshoorn. As jy nie weet vir wie om te stem nie, kom droom en hoop dan gerus saam met ons. Oudtshoorn dorp van die jaar sms Oudtshoorn aan 33157 #ekisoudtshoorn © Hekelwoorde van my Hart

Oudtshoorn Read More »

My lekkerste lekker

My lekkerste lekker is om in ‘n bad te lê, met yang ylang en eucalyptus in die water, en my bril en ‘n boek, en ‘n kers, en myself. En ‘n geyser op steroids. En tyd. Dat my tone in oumense kan verander, en my dink kan gaan lê, en ek kan verdwaal in die blaaie se vertel. So diep en so lank soos nêrens. Net te lees. En in my bed, met my wit lakens, en my skilderye en fotos teen die mure, en my kat by my voete. En my hond by die bed se voete. Met my Evernote en my koffie en my woorde en my veiligwees. En te skryf. Tot my hart skoongewas, gladgestryk, en weer in netjiese kompartemente weggepak is. Net te skryf. Of buite onder my wingerd, op my houtstoele met opvouvoete. en as dit reën daar met Nataniël se rooiwynglas te sit, onder die klein sinkdakkie (spesiaal opgesit vir-reënsit-onder-‘n-klein-sinkdakkie), en net te luister. ‘n Kin van die skepping. ‘n Kind van vrede. Net te luister. Of aan ‘n tafel. Met my geliefdes. en kerse en lag en musiek en buite en sterre en swembad en liggies en kos. En vuur. En net te lief. Of op die bank. Met my lielie en my adi en ‘n movie en popcorn en stilwees en saamwees en luiwees. En net te belong. Met lekkerste lekker is altyd by my. In my lyf. In my lewe. In my huis. By my mense. Net soos dit is. Om net te wees. Altyd, die lekkerste lekker. © Hekelwoorde van my Hart ❣️

My lekkerste lekker Read More »

Jy

In my droomwêreld die jaar wil ek ‘n boyfriend hê. Een met ‘n six-pack en plooitjies om die oë, en ‘n brilletjie wat wys hy lees baie. En hande wat lekker kan vat, en vir my pesto en tahini en hummus kan maak. Ek wil dun enkeltjies hê, en my lyf deur ‘n strooitjie kan pas. En myself uiteindelik in ‘n bikini in Truworths se spieël bekyk en dink: Wow, jou boude lyk fantasties! Ek wil naels hê wat naellak vir ‘n week mooi hou, arms wat ver genoeg is om die menu te lees. ‘n Kamera wat se settings altyd reg is, WiFi wat nie stotter op Pinterest nie, en genoeg petrol in my kar om oor grense te kan ry en vêrplek mense te kan beleef. En, ek wil daai karavaantjie hê… daai klein ronde blommetjies een wat maklik sleep en lekker slaap. En ek wil lekker en lank aan die voete van ‘n groot boom sit, en in ‘n vuur in kyk wat nooit kole maak nie. En ek wil bene hê wat kan parkrun, en ‘n wynfontein in my agter jaart, en staalbedjies onder my pruimboom vir buite slaap, en ‘n tent wat self afslaan en in sy sak spring. En tuinliggies wat aanhou werk as die gassproeier aan was. In my droomwêreld sou ek dit graag alles wou hê. Maar in die regte lewe wil ek net my eie lewe hê, met al my diere en kinders en vriende en familie. Om ou memories te vertel en nuwe memories te maak, en al laggend en huilend en real en saam ons waens deur die lewe se drif te trek En met ‘n hart wat maklik vol sal raak, wil ek langbeen bo-op die berg van die lewe nog ‘n jaar se son sien opkom. En, met my gesig na die Lig gedraai, al die dae van my lewe vreesloos leef, wawyd liefhê, en rotsvas staan. Dis al. © Hekelwoorde van my Hart

Jy Read More »

Hierdie jaar…

Hierdie jaar wat kom, wil ek met verwagting na die wêreld en sy skapelinge begin kyk. En soos ‘n oningekleurde PNA Mandala-boek vir mense inkleurpotlode uitdeel – om self hulle prent oor my blaaie te kom inkleur. As ek ‘n boemelaar sien, wil ek die siel en sy storie kan gaan haal. Omgee hoe sy val gebeur het, probeer agterkom of hy nog hoop vir hoop, leer wat sy stukkende lewe oor sy hart geskryf het. En ek wil daai mens kan afneem dat die laaste krieseltjie waardigheid deur sy krake op ‘n foto wys. Dit sal ek graag wil regkry. Ek wil iemand in ‘n rolstoel sien, en die mens met bene leer ken, en luister hoe hulle en hul mense tot by hul nuwe normaal geloop het. En ek wil die lang mens raaksien, nie ‘n sitmens in die stoel nie. As ek ‘n oumens sien, wil ek onthou dat verweerde boeke al die meeste lesers gehad het. Dat hulle ook êrens in die voorheen al in ‘n drive-in gevry het, kleilat gegooi het, ‘n nuwe werk begin, en ‘n eerste keer motor moes leer bestuur. En ek wil waardeer dat hulle stukkend ook al flenters was, en weer moes heel word so al met die oudword saam. En omgee. En as ek ‘n kwaai mens sien, wil ek deur die vuur die bang kan raaksien. En my hart se hande kan uitsteek deur die lawa, en daai seer kan vashou. Met ‘n ego wat kan laag lê. Dit sou ek die graagste wou regkry. En ek wil vir ‘n slag in ‘n baklei kan terugsit en luister. Om te hoor watter voel lê agter die ander een se woorde. Sodat ek kan verstaan. Net om te verstaan. En ek wil leer om in ‘n raas my kinders te vra wat gebeur het, net vir ‘n slag. Voordat ek begin om hulle soos altyd te vertel wat gebeur het. En verby die tattoo, die neusring, en die rasta hare, die vuil geskeurde klere, die puntenerige eter van die klein geskepte bordjie, die bang bestuurder voor die lang ry karre, die belangrike aankommer, die verpoepte hopeloser, die hoekstaande bybelmens, en die benerige hangrokkievrou wil ek leer kyk. En die mens leer raaksien. Nie meer die raam nie. Want ek is moeg vir my inkleurboek se kleure. En die ou afgeleefde rame. En die prentjies van mense wat al soos ‘n ou deurgewerkte geelbladsye deur my opgeblaai is. Hartlik moeg daarvoor. So hierdie jaar sal ek leer om ‘n inkleurboek te wees. En met ‘n sak vol inkleurpotlode sal ek begin rondloop. En ek sal dit gaan gee vir elke raam wat ek raaksien, en stilbly en stildink en stilstaan – dat mense self die kleure kan kies, en self my prent van hulle kan begin inkleur. En ek sal leer wag tot hulle klaar is. En dan eers sal ek kyk. Hierdie komende jaar gaan ek dit (weer) probeer. © Hekelwoorde van my Hart ❣️

Hierdie jaar… Read More »

Mygatafgeskrik…

Ek het vanoggend mygatafgeskrik toe ek hierdie foto van myself sien. Hierdie papirusvrou wat so op-en-gedaan-moertoe-geleef lyk, soos ‘n egiptenares wat 80 jaar deur die woestyn moes trek. Op die rug van ‘n kameel. Sonder hoed. Sonder dak. Sonder lip-ice. En sonder sunscreen. Hoe op aarde kan dit ek wees? Die denial het my oorval. Hoe kan ek soveel plooie hê? Die skaamte het my oorweldig. En toe het my oorlewingsin maar die blaam verskuif: Slegte fotograaf. Slegte dag. Slegte moisturiser. Slegte lig. Slegte angle. Ek kon haar laat verdwyn – hierdie vrou wat my so kyk. Haar meer jeudig laat lyk. Minder oud. Meer verteerbaar. Meer begeerlik. Minder waardevermindering en meer waarde. Soos ‘n vaste bate meer bemarkbaar. Maar vir wie? Ek het my photo editor oopgemaak en haar begin manipuleer – die siek siekte van die nuwe millenium wat lelik so maklik in soveel mooi in kan lieg. Eers ‘soft skin’ gekies. Toe ‘lens flare’. Toe ‘bright skin’. Toe ‘Vignette’. Ek het alles probeer, maar sy het verseg. Papirusvrou het haar man bly staan, vierkantig geplant op my skerm. En van al die kyk, besef ek toe dat hierdie waarskynlik die ekste foto van ek is wat ek nog ooit van myself gesien het. Die waarste weergawe van hoe ek in my hart agter die voordeur van my vel voel. Want Papirusvrou lyk vurig, maar ook flexible. Sy lyk soet, maar ook ondeund. Sy lyk soos ‘n mens met baie sakke sout in haar lyf, dus soos biltong – so oorleefbaar. Sy lyk soos ‘n 100 jaar waarborg op íets met ‘n 50 jaar rakleeftyd – weerstandig. En sy lyk sag, maar ook staaldraad. Ek het besluit ek like haar. Ek ís mos elk geval nie ‘n liggaam nie. Ek is ‘n siel en ‘n gees, in ‘n liggaam. Ek is die palet van my binneste – geverf oor my buitenste. En soos die papirus van verloeë dae is ek vol kreukels en voue, en gedaan gedraai van gepreserveer en gebewaar. Deur die jare verinneweer en vol geskiedenis en wysheid geskryf. Van hierwees, en opstaan, en voel, en lag, en val, en deurleef. Ongebotox. Ongespuit. Ongeplastic surgery. Ongenaakbaar mens. En real. © Hekelwoorde van my Hart ❣️

Mygatafgeskrik… Read More »

error: Content is protected !!
Scroll to Top