So wanneer is genoeg uiteindelik genoeg?

As jou rieme deurgeloop is en jou tong hang op die grond? Of jou woorde is op, jou knieë deurgekruip, jou hart uitgedop, jou oë al reg agteroor omgerol tot weer voor van kannie-meer-nie . . . is genoeg dán genoeg? En as jy nog ʼn knertsie oor het om te gee, moet jy nóg harder en verder probeer, of mag jy uiteindelik gaan, oorgee, opstaan, smeek, sê hoe jy voel, huil, wegloop, bly?

Genoeg is nie genoeg as jy nie meer een tree voor die ander kan gee nie, want mens kan altyd nóg bietjie verder. Dis maar net hoe die groot Skepper ons gemaak het . . . vir oorlewing.

Genoeg is genoeg die dag as jy wéét dat jy weet. Dis al. En wonder is nie weet nie. Nét weet is weet.

Weet het ’n manier hoe dit kom sit in jou lyf; dit voel soos geen ander gevoel nie. Dit voel soos stilte, nie soos oorlog nie. Dit voel soos krag, nie soos moeg nie. Dit voel soos opstaan, nie soos gaan lê nie. Dit voel soos berusting, nie soos betwyfeling nie.

Want weet is die laaste druppel in die volste emmers van genoeg. En dis vorentoe, nooit weer agtertoe nie. En daardie dag sal jy met ’n sagte stem hoef te praat, en jy sal duidelik gehoor word, want jou waarheid sal die pad soos die Rooisee voor jou oopkloof. En jy sal jou ken kan lig, en daai ding doen. Uiteindelik. Want weet voel soos dapper. Meeste van alles voel weet soos dapper.

Die dag as jy met jou weet voor jou wonder kan staan dan, en met jou dapper voor jou bang, dáárdie sal die dag wees wat genoeg uiteindelik vir jou genoeg sal wees.

© Hekelwoorde  
error: Content is protected !!
Scroll to Top