Daar is net een plek in die hele wye wêreld wat net aan jouself behoort, en dis jou kop – jou gedagtes.
Mens se hart is soos ‘n wilde woestynperd, wat jou op looptou neem agter liefde en hartseer en pyn en instink en geluk en teleurstelling aan, met jou wat met die beste wil in die wêreld altyd agterna moet kom. Want ‘n hart laat hom nie voorsê nie, dis jou voel. En dis ok.
En mens se lyf is ‘n uitleen – vir werk, of kinders liefhê, of lovers vashou, of gunste doen, of mense aanry, of inkopiesakke aandra, of brood bak of brekvis maak en die lewe leef.
Maar jou kop is jou dink… JOU dink. Daarom moet jy altyd met die grootste Mooi voor jou dink gaan staan, en oor jou gedagtes waak. Dis JOU plek van vrede, jou plek van rus, jou space. En dis ook die plek waar jou Glo begin (of eindig).
Vergewe jouself, prys jouself, droom mooi van jou vorentoe, gaan dapper met jouself om. En spreek lewe uit oor jou lewe, en oor jouself. Nie verdoemenis en onheil, en siekte, en dood nie. Maar lewe.
Gaan sit vandag en trek daai onkruid uit, al daai leuens wat jy jouself laat glo, want dit hoort in die land van dood, nie in die land van Lewe nie.
En plant ‘n blomtuin in jou kop. Een wat mooi maak, en lekker voel, en joy bring, en jou meer laat word – nie minder nie.
Waak oor jou gedagtes, en maak jou kop ‘n plek van vrede. Want daai space is net joune, your place of safety. Vandag, en elke dag van jou lewe.
© hekelwoorde van my hart