Hierdie jaar wat kom, wil ek met verwagting na die wêreld en sy skapelinge begin kyk. En soos ‘n oningekleurde PNA Mandala-boek vir mense inkleurpotlode uitdeel – om self hulle prent oor my blaaie te kom inkleur.
As ek ‘n boemelaar sien, wil ek die siel en sy storie kan gaan haal. Omgee hoe sy val gebeur het, probeer agterkom of hy nog hoop vir hoop, leer wat sy stukkende lewe oor sy hart geskryf het. En ek wil daai mens kan afneem dat die laaste krieseltjie waardigheid deur sy krake op ‘n foto wys. Dit sal ek graag wil regkry.
Ek wil iemand in ‘n rolstoel sien, en die mens met bene leer ken, en luister hoe hulle en hul mense tot by hul nuwe normaal geloop het. En ek wil die lang mens raaksien, nie ‘n sitmens in die stoel nie.
As ek ‘n oumens sien, wil ek onthou dat verweerde boeke al die meeste lesers gehad het. Dat hulle ook êrens in die voorheen al in ‘n drive-in gevry het, kleilat gegooi het, ‘n nuwe werk begin, en ‘n eerste keer motor moes leer bestuur. En ek wil waardeer dat hulle stukkend ook al flenters was, en weer moes heel word so al met die oudword saam. En omgee.
En as ek ‘n kwaai mens sien, wil ek deur die vuur die bang kan raaksien. En my hart se hande kan uitsteek deur die lawa, en daai seer kan vashou. Met ‘n ego wat kan laag lê. Dit sou ek die graagste wou regkry.
En ek wil vir ‘n slag in ‘n baklei kan terugsit en luister. Om te hoor watter voel lê agter die ander een se woorde. Sodat ek kan verstaan. Net om te verstaan.
En ek wil leer om in ‘n raas my kinders te vra wat gebeur het, net vir ‘n slag. Voordat ek begin om hulle soos altyd te vertel wat gebeur het.
En verby die tattoo, die neusring, en die rasta hare, die vuil geskeurde klere, die puntenerige eter van die klein geskepte bordjie, die bang bestuurder voor die lang ry karre, die belangrike aankommer, die verpoepte hopeloser, die hoekstaande bybelmens, en die benerige hangrokkievrou wil ek leer kyk. En die mens leer raaksien. Nie meer die raam nie.
Want ek is moeg vir my inkleurboek se kleure. En die ou afgeleefde rame. En die prentjies van mense wat al soos ‘n ou deurgewerkte geelbladsye deur my opgeblaai is. Hartlik moeg daarvoor.
So hierdie jaar sal ek leer om ‘n inkleurboek te wees. En met ‘n sak vol inkleurpotlode sal ek begin rondloop. En ek sal dit gaan gee vir elke raam wat ek raaksien, en stilbly en stildink en stilstaan – dat mense self die kleure kan kies, en self my prent van hulle kan begin inkleur. En ek sal leer wag tot hulle klaar is. En dan eers sal ek kyk.
Hierdie komende jaar gaan ek dit (weer) probeer.
© Hekelwoorde van my Hart ❣️