Daar is gifts wat in mans se lywe rondloop wat net lekkerder gegee kan word deur ‘n man as deur ‘n vrou – en ek praat nou nie van die baie ooglopende gift van seksualiteit nie, alhoewel daardie lekkerte seersekerlik nie te versmaai is nie. Ek praat hier van die voorreg om deur die energie van ‘n goeie man omarm te word.

Daar is byvoorbeeld min dinge so lekker as om styf deur ‘n man vasgehou te word, soveel te meer ‘n man wat lekker ruik; ‘n Vriend wat jou omsingel met liefhê, ‘n geliefde wat jou koester in veiligwees, ‘n pa wat wonde afstof en spoegsmeer na ‘n fietsval en jou optel en huis toe dra, ‘n man wat jou ordentlik vashou en stuur op ‘n dansvloer. Vrouens is van die begin van tyd af gekerf na daardie lekkerte, en my lewe is deurdrenk van wonderlike mans wat styf en ordentlik kan vashou: pietes en jacos en atties en leons en pappas en george’ s en vele meer, pragtige siele wat my kan intrek in die veiligwees van hulle arms in. Om net te land. Weg te raak in die ruimte van hulle genade. Net vir ‘n oomblik.

Ek eer die lekkerte van ‘n man wat jou laat sit terwyl hy vir jou ‘n vuur bou, jou glas en jou hart volmaak, tjoppies met ‘n crispy vetjie braai, rib wat soos murg smelt, vis wat soos see proe, die daglange nurse van ‘n pot. Kosgemaakte liefde wat voorgesit word deur ‘n man laat mens sag voel, vroulik, geborge, versorg. Daar is iets primitief aan die lekkerte om by ‘n man te sit wat vir jou vleis op ‘n vuur gaarmaak. My hart word salf gesmeer daarmee.

Die genade in die opdaag van ‘n man wat voor ‘n stukkende kar kom staan, sy sambreel van kennis oor jouvulnerable vrouwees langs ‘n pad kom span, my weer veilig op my pad stuur. Mans wat die vuur in my dak kom blus, die strelitzia wat in my geut groei in my tuin kom plant, die stukkend venster vervang sonder om ‘n woord te sê, vir my ‘n nuwe saal vir my fiets maak en kom opsit.

En dan is daar die mans wat my mentors is. Die siele wat soos groot kremetartbome hulleself kom plant voor my probleme en na my luister, bepeins, beredeneer, my uitlei. Soos hoekpale hulself om my weerloosheid kom span en my kraal toehou, bewaak, beskerm.

Wat is die lank en kort daarvan vir my? Ek is een van daardie vrouens wat meeste van die dinge van ‘n man moet doen, maar ook kan doen – ek kan vuur maak, wyn skink, hout aandra, in ‘n zoom meeting saam met mans redeneer, die wiel vervang, tent opslaan, kettie skiet, waentjie hak, pak, en reverse. Namibië toe ry.

Maar soms is ek op-geman. Want ons vrouens wat ook moet manwees raak altyd iewers op-geman. En dan is daar geen groter lekkerte in die hele wêreld as ‘n goeie man wat opdaag, en sy arms om jou lewe of hart of probleem of huis of liggaam of seer of feilbaarheid of trane of probleem of grense of vrouwees kom span nie. Want dis slegs in daardie ruimte wat ‘n vrou regtig kan wegsmelt en soos ‘n vrou kan voel. Al is dit net vir ‘n oomblik.

Daarom eer ek vandag my eie pa, een van die heel grootste siele in my lewe, die man wat my self gevang het toe ek gebore is, en my van altyd af geleer het hoe veilig, veilig regtig kan voel. En ek eer al die ander goeie mans in my lewe, die hele lang linie van sterk siele wat altyd net opdaag en hulself om my lewe kom span. Dis soos salf vir my as vrou, om soms in die groot skaduwee van julle manwees te kan uitspan en rus. My lewe sal nie dieselfde wees sonder julle nie.

© Hekelwoorde
error: Content is protected !!
Scroll to Top