Tekste

wegsmeltliefde

hy was haar-eie-om-lief-te-hêvas-aan haar-naby-gehou-vasgeklouof armverte ver laat gaanmaar nooit te ver nie,want van almal in die hele wêreldmoes hy net hare weesasseblief-tog-niemand-anders-s’n-nie-net-hare. saans in die maanligterwyl sy haar verstaar het aan sy mooihet sy stukkies van haar hart uitgerygen aan syne vasgewerkmet die goue drade van haar Self en so het sy hart al voller geworden sy Mens al groter…. en haar hart al leëren haar Mens al kleiner tot haar hele wesebuite haar lyf rondgeloop het,haar hele mensweesin die lyf van haar beminde haarselfheeltemal verwelkin haar liefhê van hom later moes haar arms al langer –want sy Vêr gaan al verdersy luister al vlakkerwant sy wegkyk al wegger en die nag toe hy uiteindelikhaar vasklou van hom afgooi,en die deur agter hom toetrekhet sy in haar leë huis met haar leë presence op die grond gaan geval en hom soos ‘n nagwind agterna gehuil… skaduwee van niksnet ‘n asem weggesmyt –van wegsmeltliefde… en van haar blinkste gee daai aand lees sy in die groot swart Boek: mens moet jou naaste net so liefhê soos jouself daai aand besef sy wat Hy eintlik sê is: “My kind, mens moet JOUSELF altyd net so liefhê soos jou naaste”. © Hekelwoorde ❣️

wegsmeltliefde Read More »

Commit to Shift

COMMIT TO SHIFT Die eeu-oue les is dat in enige situasie waarvan jy nie hou nie jy drie keuses het – jy kan dit aanvaar (en ophou kla!), jy kan dit verander, of jy kan die situasie verlaat. Dis dit – maar jy moet ‘n besluit neem en shift,! Want as jy gaan bly voortpeuter en kla soos ‘n plaat wat vasgehaak het kan jy net sowel elke oggend jou Joy in die toilet gaan afspoel voor jou eerste koffie. So waar laat hierdie post-apocalyptic dilemma na Lockdown ons in hierdie scenario? Daar is harde lang maer maande en jare wat in elke land voorlê, en vir jou om jou beste lewe te leef moet jy besluit hoe jy hierdie jare gaan leef – jy sal moet besluit, en hoe gouer hoe beter. Jy is welkom om dit te doen as jy wil, maar ek persoonlik weier om hierdie nuwe realiteit te aanvaar.  Om in vrees te leef steel my Joy, en om in woede te leef maak my ‘n bliksem in ‘n vel wat baie onlekker is vir ander mense – ek wil nie daai mens wees nie. En om te onderdruk werk ook nie, want iewers sal daai emosie weer soos lawa uitspring. So aanvaar sal daar nie aanvaar word nie – ek hou van geestelike beweging, vooruitgang, ek wil bly shift.  So nee, ek gaan nie aanvaar nie. Kan ek die situasie verlaat? Wel, as jy ‘n maanmannetjie is kan jy weer in jou piering spring en teruggaan waar jy vandaan gekom het, en as jou tyd op aarde amper verby is kan jy uitsien om in die heavenly fields onder ‘n peerboom te gaan sit. Maar tensy jy reg is om pap en wors, en jou ouers, en die grootste glimlagte in die wêreld vir altyd koebaai te waai en in ‘n ander land te gaan woon, is hierdie nou die hand wat ons gedeel is. Hierdie land wat so in sy moer in is. En ek gaan dit nie verlaat nie. So kan ek dit verander? Ek kan nie die groter prent verander nie – kan nie drie miljoen mense se werke vir hulle teruggee nie, kan nie mense in tronke terugsit nie, kan nie daai gevreetlike vet selfsugtige taai handjies uit al die heuningpotte uitkry nie. Ek kan ook nie Corona afmaai nie. My arms is te kort vir al daai. Maar wat ek kan doen is ek kan shift – my houding (attitude) teenoor hierdie situasie kan ek shift – want ek wil my beste lewe leef. Ek kan elke dag in dankbaarheid begin – vir klere, kos, ‘n dak, wiele, kinders, gesondheid, arms, ‘n brein, my kinders – die klein goed wat huge is kan ek soos ‘n fliek voor my afspeel elke oggend. My dankbaarheid soos ‘n soldaat elke tree voor my laat uitloop. Ek kan my energie in elke dag gaan inspuit sodat die lewe weer kan begin beweeg – Lig saai sodat Hoop gebore kan word (nie hoop vir ander omstandighede nie, maar hoop vir ons mens se vermoë om op te staan uit omstandighede uit). Ek kan begin oefen en genoeg slaap, dat ek elke dag my allermeeste kan insit, want insit maak mens gelukkig. En ek kan planne bly maak om te bly vorentoe gaan.. maniere uitdink om anders te dink, nuut te praat, negatiwiteit te breek, mense se perspektiewe te verander. Ek kan soos ‘n groot towenaar met ‘n lang baard my arms lig, en in ‘n sidderende beweging goeie energie soos ‘n wind van Lig oor my wêreld laai waai – dis wat ek kan doen. Ons het nodig om te shift. Binne ons realiteit die besluit te neem om soos groot geestelike reuse op te staan en bo ons liggame uit te troon, vorentoe te stap in die wilsbesluit om te oorwin – ons omstandighede te oorwin, maar ook onsself. Uit my eie pad uit te kom, dat ek kan beweeg. So kom ons begin ‘n nuwe beweging – Commit to Shift. Hang ‘n strik in jou voortuin, of ‘n lap, ‘n klok, ‘n wapperende vlag van hoop. Hang dit sodat ander weet jys gereed om op te staan – vorentoe te gaan. Ready to fight this spiritual fight. Want ons nuwe land gaan IN ons lywe begin opstaan, nie buite ons lywe nie. VANDAG.#committoshift © HEKELWOORDE

Commit to Shift Read More »

Vorentoe!

My post-Coronamens is ‘n boggerop. Ek voel erg onlekker sleg. Nie selfmoord-haatdraend sleg nie – net knaend en kwynend sleg. Saai en afgemaai. Want my lyf het van doodwerk in hierdie tyd net ‘n reuse brein geword wat geplant is in ‘n tuin van selluliet en vetrolle. My bome behang met vrugte van ou klere, gerekte skipants, ou sokkies, kamerjasse en nagklere… my sexy iewers al in Maart weggepak saam met kaste vol vet sakke maer klere. En met my lyf in sy glory, my selfbeeld wat soos Schmegel deur gleuwe begin sypel om aan nerwe komplimente van ander mense te gaan lek… te vergryp aan slurpies goedvoel en met tentakels klouend in my grot te gaan versteek. My ongebalanseerde menswees wat nie genoeg Son en Lig gekry het nie – van te min ry en te veel bly. Facebook en Netnuus wat soos kranse begin uitgroei het tussen horisonne van lag en gesels en verbeel. Van Cyril en Zuma gespice oor braaivleis en 30 seconds. Verveling gelawe in borde kos, verdrink in glase wyn. Besigheidsplanne op Zoom tussen skottelgoed en hondehare. Die wyse manne sê ons moet leef in die nou, maar ek is nou gatvol vir nou. Ek wil die toekoms vat en dit soos perfuum oor my spuit, en wil planne vat en myself besmeer met reise en grondpaaie en padkaarte. My drome soos trosneste oor die saai van nou kom hang. Ek gaan myself weer begin verbeel. In die wonderlikheid in. Ek is kant ek klaar geCorona. Nou begin ek weer droom! © HEKELWOORDE

Vorentoe! Read More »

Genoeg is genoeg!

Ek begin voel of ek deur die mure van Covid wil hol, en deurbars aan die ander kant en net bly hol. Ver ver weg van retrenchments, en zoom meetings en onwaarskynlike mense wat doodgaan, en mense wat in gasmasker langs oop gesigte wil staan, en skoonheidskompetisies waar deelnemers in lang rye op rekenaars moet loop. Ek wil deur velde gaan hol en voor kanse slaap en deur die nag onder sterre swem en net flippen vry wees van hierdie nuwe liewe wat shit is en regtig suck!  Toe my boetie dood is was die oorwegende gevoel dat ek my voete wou stamp en die mother van alle trantums gooi, om my wil op die universe af te dwing tot sy ingee en hom terugbring. Maar helaas, sy het volgehou. En hy was weg.  En so voel ek nou. Ek wil soos ‘n mal mens skree dat my kleintongetjie tril dat ek gatvol is en vasgehou wil word! Ek wil mense twaalfuur die aand in die straat groet terwyl ons almal koebaai sê en vol wyn, tabak en liefde gaan slaap.  Ek wil iewers in ‘n ander provinsie op ‘n berg sit en my verbeelding oopspan en weet ek kan tot by Ysland reis as ek wou. Fliek kyk en nie voel hoe my hart bollemakiesie slaan as mense hande skud nie. Langs ‘n vreemdeling gaan sit en in hulle naby in hulle siele vashou van omee.  Ek wil in mense se space wees! My ouers vashou! Ek floreer teen mense se velle. Ek is gemaak om naby aan mense te leef, ‘n klein aura te hê, my hande uit te steek en mense te vat, vasgehou te word deur liefde, vreemde mense nader te trek en teen my hart te druk. Energie en lekkerte en reuke te ervaar, langer ingetrek te word as wat jy gedink het. Gesoen te word, ‘n sweetlyf nader te trek omdat liefde deur grense mag vat. Die wêreld se mense is my beminde. Ek wil gevat wees, gevoel wees, mens wees, flippen normaal wees.  Ek wil my wil op die universe afdwing en skree: Genoeg is Genoeg!  ©HEKELWOORDE. 

Genoeg is genoeg! Read More »

Die put van onverbiddelike moeders

Ek wil na die Put van Onverbiddelike Moeders toe gaan, en my dors gaan les aan daardie swart gevrotte waters… tot ek leeggedrink is aan al my raas.   Ek wil by die afgrond van my grense gaan staan, en met die gebeentes van my wense, nog kilometers van geduld met my hande gaan aanbou. Dat ek net verder kan strek vir my kinders as die nou.  Ek wil my hart uit my bors uit ruk, en soos ‘n fragile sticker op my voorkop plak – dat hulle deur die basuin my woorde my liefde kan bly raaksien – soos ‘n mot na die Lig toe kan bly gaan, ten spyte van al die donker. Ek sou my hart in ‘n seil span om hulle tot in die waters van vrede te seil, met ongeskonde skoon palette uit my huis uit te laat gaan….. maar my boot bly sink, my hout bly vrot, my skroewe bly lek, die vorentoe bly agtertoe.  Ek wens ek was volmaak. ‘n Volmaakte ma. Of ten minste net beter. Of ten minste net flippen volwasse genoeg dat ek soms my mond kan hou. My vrese in my lyf kan wegsluit. Net in die grense van  liefde en vrede te kan bly liefhê.  In die stilte.  Ek wens ek was daai ma, die een wat kan stilbly, twee keer dink, beter doen, en dit regkry. Ek flippen wens ek was daai ma.  © HEKELWOORDE

Die put van onverbiddelike moeders Read More »

Gatvol!

Ek is vandag ernstig bekommerd. En gatvol! Gatvol gewerk, gatvol gezoom, gatvol tussen my mure gebly, gatvol vir my lessenaar in my kamer, gatvol vir statistieke en nuus en covid en en sanitiser en al die shit in ons land. En veral vir Cyril, wat vir my al hoe meer soos ‘n poefter begin lyk. ‘n Slim poefter. En omdat al die woorde wat uit Sondagaand-radiopraatjie afkondigings se speakers soos Swart en Wit klink. Scuse the pun.  Eks gatvol gestress dat die regering al hoe meer maniere vind om grants vir meer mense uit te deel, terwyl hulle terselfdertyd al hoe meer maniere vind om die krane toe te draai van die mense wat die belasting moet betaal om die grants te betaal. Eks gatvol gehoor hoe worry hulle oor ons skuldlas, terwyl die geld wat deur sigarette sou inkom doodgedruk word in ‘n asbak. Eks gatvol dat een plus een nie meer twee is nie. Dis nie eers meer drie nie. Dis nou driehonde vyf duisend en honderd. Plus drie katte. En ‘n renosterhoring.  Eks gatvol dat daar steeds duisend maniere is om onleesbare brands sigarette oor die grense te kry, omdat daar altyd in ons land ‘n donnerse vuur is waar daar ‘n rokie is. Eks gatvol dat mense wat nie met messe steek nie, nie mag wyn drink nie…. terwyl die deure wat eintlik toegemaak moet word steeds oop is.  Ek is gatvol dat ek ‘n trotse Suid-Afrikaners is in ‘n reënboogland waar al die kleure nie meer skerpgemaak mag word nie. Ek wil pers sien, en magenta, en teal, en ligblou, maar die groot watergewere skiet ons knieë af as ons inkleur.   Eks gatvol om stil te bly omdat ek positief moet wees. Gatvol dat ek grootgemaak is om ordentlik te bly. Gatvol dag ek nie mag toi-toi nie omdat my kleur te grênd is om te rebelleer. Eks gatvol dat ouers wat moet werk nie kan werk nie, omdat kinders wat moet skool nie kan skool, omdat die minister wat moes water nie gewater het nie. Gatvol dat ons nege weke in Lockdown was om hospitale reg te kry wat nie reggekry is nie. Gatvol dat taxis wat kla volgemaak word, maar restaurante wat kla leeggemaak word.  Eks gatvol-de-moer-in dat elke week meer surreal begin voel as die vorige een. Ek wil met my kop deur die wind gaan wapper en my brein deur die see gaan spoel. My brein is dik gedink, en gatvol.  Want hierdie is my land ook. My toekoms. My kinders se toekoms. My kleinkinders en vriende en ouers en voorvaders se toekoms. Almal van al die kleure se toekoms – maar ook myne! En ek is gatvol dat dit nie meer so voel nie, en gatvol om stil te bly daaroor, en gatvol dat ek nie gehoor word nie. Absoluut-fokken-gatvol 🙌.  © Hekelwoorde

Gatvol! Read More »

Die Man

Ekke wag vir ‘n man. Nie ‘n drol met tierlantyntjies en emmersvol halwe probeers wat agter blink fluweelgordyne en baie eiendomme weggesteek word nie, net ‘n regte man. Een wie se skoene al ver geloop het, en wie se penwortels diep in die aarde geanker is. Een wat al geleer het dat mens kan leer as jy bereid is om te lees en te luister, en wat lief is vir vashou en vat. Want die hele wêreld se mense kan liefgehê word met vashou en vat, ook ek. En hy hoef nie te kan vleisbraai nie, of brood bak, of wiele omruil, of ‘n waentjie reverse nie. Maar hy moet ‘n tent kan opslaan en kan vuurmaak. En sterk langs een kan staan, want my draak se vuur is verwoestend… al is haar hart sag. Die man wat ek soek se muscles hoef nie groot te wees nie, maar sy arms moet ordentlik kan vashou – my siel en my liggaam. En sy oë hoef nie meer goed te wees nie, maar hy moet weet watter kant toe is die Lig, en sy pad soontoe wil vind. My man se kar hoef nie ‘n Ferrari te wees nie (dit moet asseblief net nie ‘n Ferrari wees nie!), maar hy moet ry wat by hom pas. As hy wilde hare het kan hy ‘n ou kombi ry, of as hy van ‘n stoppelbaard hou miskien ‘n Landy. Met niks gladgestrykte enigiets nie – nie hare of baadjie of oogplooie of enigiets nie. Want mans moet soos die aarde wees, tasbaar en real en lekker. En grof. Dat ons kan sag wees. En glad is anyway net te glibberig. En hy moet kan vloek. Want ‘Ooo donner’ klink beter as ‘oepsie daaisie’, en ‘bliksemstraall’ sê beter as weerlig. En kan lag, dat die aarde dreun. Want mense wat kan lag se harte is oop, en hulle siele al ryp gedruk. En lekker kan eet, en musiek kan luister. En hy moet saam met my kan sit. En net sit. En miskien leef sy vrou nog, of dalk fight hy iewers ‘n nog battle voor hy Huis toe sal kom. Maar ek sal my Lig vir hom aansteek, dat hy sy pad na my hart toe kan vind. En as ek hom sien sal ek weet. En ek sal hom vat, en liefhê. Want hy sal my toelaat om hom lief te hê. Al die dae van my lewe. © Hekelwoorde van my Hart

Die Man Read More »

OOR MUWWE WOORDE

Die sluk van woorde wat gesê moet word . . . waar gaan lê daardie woorde as dit nooit gepraat word nie? Die muf van trane wat nooit gehuil word nie, die vuur van ʼn skree wat nooit geskree is nie. Die seer van stilbly en wegloop . . . waar gaan rank daardie hartseer in ons menswees vas? Die saal van ongesêde emosies, waar woon daardie plek in ons lywe? Die woorde wat nét soveel skade gaan doen as dit gepraat word as wanneer dit in jou lyf weggebêre word . . . wanneer en hoe moet daardie woorde gepraat word? Hoe keer ons dat geslukte woorde oor tyd ons kosbare harte versmoor en ons lywe verniel? In my grootwordhuis kon ons drie kindertjies nog skaars oor die tafel kyk toe moes ons al ’n spreekbeurt tydens huisvergaderings hê. Ons moes ook terugpraat as ons raas gekry het, omdat my kosbare ma ons wou leer om dapper genoeg te wees om in ons waarheid te staan en dit te verdedig. En ons mag nooit presente gegee het om jammer te sê nie, omdat sy ons wou leer dat jammersê ’n saak van woorde is, nie ʼn saak van besittings nie. My ma het ons van kleins af geleer om die moed te hê om ons eie waarheid te bekyk en te leer ken, en sy het ons in daardie proses dapper genoeg gemaak om eerlik met ons waarheid om te gaan, al was dit hóé moeilik. As ek vandag terugkyk, dink ek dis waarskynlik een van die grootste geskenke wat sy vir ons as kinders kon gee. Soos ons ouer geword het, moes ons later leer dat dapper net een van die juwele van die halssnoer van waarheid is, en toe begin om die wysheid te leer om met ons waarheid om te gaan – dat stilbly ook soms ’n manier is om in jou waarheid te staan. En so ook luister, vashou, wegloop en opstaan. Om die moed te hê om ons waarheid te deel, maar op so manier dat die wêreld ’n beter plek word en nie slegter nie – dít is die geskenk van wysheid wat slegs met tyd kom. Deur val en opstaan, en baie keer oor begin, foute maak, en die verloor van baie kosbare mense langs die pad. My ma vertel my nou die dag dat vuur in die hart beter is as ’n uitgebrande kool, en dat mens oukei is solank jou woorde uit ’n plek van liefde kom, nie uit ’n plek van ego nie. Dit sou goed wees as ek eendag my saal van ongesêde woorde in ’n tas kon pas, of in ’n brilhuisie, sodat my eie lyf kon leeg wees van ongesêde dinge teen die tyd wat ek die aarde mag verlaat. Maar bo alles is my wens dat die wag voor my mond wysheid sal bly leer. Sodat sy uiteindelik slegs met die reëls van die Lig my woordsoldate sal ontplooi, en altyd uit ʼn plek van liefde my waarheid oor die wêreld en sy mense sal kan saai. © HEKELWOORDE  

OOR MUWWE WOORDE Read More »

Lughawe-lewe

Ek begin die laaste paar dae serious ongemak in my lyf ervaar, asof daar ‘n huilerigheid in my nerwe sit wat soos ‘n reuse dwarsbaba lê en vastrap aan die vliese van my hart. En dis nie lockdown nie, ook nie Cyril, of die knaende vermisting na die vashou van my mense nie. Die meer as dit – dis alles. Dis die besef wat begin insink dat hierdie woestyn waardeur ons stap dalk baie verder van die oase af is as wat ons onsself sou wou verbeel, dat die lewe soos ons dit geken het dalk weg gaan wees vir nog ‘n jaar of twee – of selfs deur nooit nie ingesluk gaan word. Ek is nie reg vir hierdie nuwe lewe nie, ek wil omdraai en terughol uit die woestyn uit na waar dinge in Maart nog dieselfde was, en met ‘n sakdoekie al huilende die res totsiens groet en dan ingaan in my ou lewe in en daar vertoef vir altyd. Ek wil ‘n langtafel reël soos ek net ses maande gelede gedoen het, met liggies in die bome en mense wat in lang rye styf teen mekaar sit en glase cheers en mekaar se gesigte vat van omgee. Nou mag ek nie eers aan my eie gesig vat nie. Verandering is my ding. Ek ry verskillende paaie werk toe, skuif my meubels, verf my mure, reinvent permanent een of ander faset van my menswees dat dinge interessant kan bly. Maar hierdie is nie dieselfde nie – hierdie verandering is soos Namibië se paaie wat lank en reguit aanhou in die aanhou in….sonder die vooruitsig van ‘n mooi duin of ‘n blou see aan die einde daarvan. Hierdie lewe voel soos ‘n bra wat te styf sit wat nooit uitgetrek mag word nie, of soos om elke dag in twee verskillende soorte van iemand anders se skoene te moet loop – dit sit nie lekker aan my lyf nie. Dit voel ontuis. As ek geweet het sou ek skraapsels van my ou lewe gaan bymekaarkrap het vir oulaas, in ‘n sakke om my nek gedra het – vir ‘n vashou en vertoef van daai lekkerte as die grond te hard raak. Het ons ‘n keuse? Nee, ons het geen keuse nie. Moet ons aanpas as ons wil oorleef? Ja, vir seker. Maar vir hierdie week wil ek treur, omdat ek gedink het drie weke is net drie weke. Nou begin voel dit soos om iewers na ‘n lang vakansie op ‘n lughawe rond te hang terwyl jy wag om huis toe te gaan en die vlug word vertrag – eers vir dae, dan weke, dan maande…. terwyl jy elke dag in die regop moet sit, en stap, en eet, en leef. Omdat jy in die tussen-in moet asem haal. Ek weet ons gaan ok wees, ons is altyd ok. Die mens is gemaak vir aanpas en oorwin. Maar ek verlang vandag na die lewe soos ek dit geken het, waar my kinders kon maats hê en uitgaan, en sport doen, en ons kon ophou werk omdat jy kon huis toe gaan. En ek aan my eie oë kon vat sonder om eers te spuit. Ek mis. © HEKELWOORDE ™

Lughawe-lewe Read More »

Papirusvrou

Ek het vanoggend mygatafgeskrik toe ek hierdie foto van myself sien. Hierdie papirusvrou wat so op-en-gedaan-moertoe-geleef lyk, soos ‘n egiptenares wat 80 jaar deur die woestyn moes trek. Op die rug van ‘n kameel. Sonder hoed. Sonder dak. Sonder lip-ice. En sonder sunscreen. Hoe op aarde kan dit ek wees? Die denial het my oorval. Hoe kan ek soveel plooie hê? Die skaamte het my oorweldig. En toe het my oorlewingsin maar die blaam verskuif: Slegte fotograaf. Slegte dag. Slegte moisturiser. Slegte lig. Slegte angle. Ek kon haar laat verdwyn – hierdie vrou wat my so kyk. Haar meer jeudig laat lyk. Minder oud. Meer verteerbaar. Meer begeerlik. Minder waardevermindering en meer waarde. Soos ‘n vaste bate meer bemarkbaar. Maar vir wie? Ek het my photo editor oopgemaak en haar begin manipuleer – die siek siekte van die nuwe millenium wat lelik so maklik in soveel mooi in kan lieg. Eers ‘soft skin’ gekies. Toe ‘lens flare’. Toe ‘bright skin’. Toe ‘Vignette’. Ek het alles probeer, maar sy het verseg. Papirusvrou het haar man bly staan, vierkantig geplant op my skerm. En van al die kyk, besef ek toe dat hierdie waarskynlik die ekste foto van ek is wat ek nog ooit van myself gesien het. Die waarste weergawe van hoe ek in my hart agter die voordeur van my vel voel. Want Papirusvrou lyk vurig, maar ook flexible. Sy lyk soet, maar ook ondeund. Sy lyk soos ‘n mens met baie sakke sout in haar lyf, dus soos biltong – so oorleefbaar. Sy lyk soos ‘n 100 jaar waarborg op íets met ‘n 50 jaar rakleeftyd – weerstandig. En sy lyk sag, maar ook staaldraad. Ek het besluit ek like haar. Ek ís mos elk geval nie ‘n liggaam nie. Ek is ‘n siel en ‘n gees, in ‘n liggaam. Ek is die palet van my binneste – geverf oor my buitenste. En soos die papirus van verloeë dae is ek vol kreukels en voue, en gedaan gedraai van gepreserveer en gebewaar. Deur die jare verinneweer en vol geskiedenis en wysheid geskryf. Van hierwees, en opstaan, en voel, en lag, en val, en deurleef. Ongebotox. Ongespuit. Ongeplastic surgery. Ongenaakbaar mens. En real. © Hekelwoorde van my Hart❣️

Papirusvrou Read More »

error: Content is protected !!
Scroll to Top