My post-Coronamens is ‘n boggerop. Ek voel erg onlekker sleg. Nie selfmoord-haatdraend sleg nie – net knaend en kwynend sleg. Saai en afgemaai.

Want my lyf het van doodwerk in hierdie tyd net ‘n reuse brein geword wat geplant is in ‘n tuin van selluliet en vetrolle. My bome behang met vrugte van ou klere, gerekte skipants, ou sokkies, kamerjasse en nagklere… my sexy iewers al in Maart weggepak saam met kaste vol vet sakke maer klere.

En met my lyf in sy glory, my selfbeeld wat soos Schmegel deur gleuwe begin sypel om aan nerwe komplimente van ander mense te gaan lek… te vergryp aan slurpies goedvoel en met tentakels klouend in my grot te gaan versteek.

My ongebalanseerde menswees wat nie genoeg Son en Lig gekry het nie – van te min ry en te veel bly. Facebook en Netnuus wat soos kranse begin uitgroei het tussen horisonne van lag en gesels en verbeel. Van Cyril en Zuma gespice oor braaivleis en 30 seconds. Verveling gelawe in borde kos, verdrink in glase wyn. Besigheidsplanne op Zoom tussen skottelgoed en hondehare.

Die wyse manne sê ons moet leef in die nou, maar ek is nou gatvol vir nou. Ek wil die toekoms vat en dit soos perfuum oor my spuit, en wil planne vat en myself besmeer met reise en grondpaaie en padkaarte. My drome soos trosneste oor die saai van nou kom hang. Ek gaan myself weer begin verbeel. In die wonderlikheid in.

Ek is kant ek klaar geCorona. Nou begin ek weer droom!

© HEKELWOORDE

error: Content is protected !!
Scroll to Top