Tekste

Die put van onverbiddelike moeders

By Julie 29, 2020 5 Comments

Ek wil na die Put van Onverbiddelike Moeders toe gaan, en my dors gaan les aan daardie swart gevrotte waters… tot ek leeggedrink is aan al my raas.  

Ek wil by die afgrond van my grense gaan staan, en met die gebeentes van my wense, nog kilometers van geduld met my hande gaan aanbou. Dat ek net verder kan strek vir my kinders as die nou. 

Ek wil my hart uit my bors uit ruk, en soos ‘n fragile sticker op my voorkop plak – dat hulle deur die basuin my woorde my liefde kan bly raaksien – soos ‘n mot na die Lig toe kan bly gaan, ten spyte van al die donker.

Ek sou my hart in ‘n seil span om hulle tot in die waters van vrede te seil, met ongeskonde skoon palette uit my huis uit te laat gaan….. maar my boot bly sink, my hout bly vrot, my skroewe bly lek, die vorentoe bly agtertoe. 

Ek wens ek was volmaak. ‘n Volmaakte ma. Of ten minste net beter. Of ten minste net flippen volwasse genoeg dat ek soms my mond kan hou. My vrese in my lyf kan wegsluit. Net in die grense van  liefde en vrede te kan bly liefhê.  In die stilte. 

Ek wens ek was daai ma, die een wat kan stilbly, twee keer dink, beter doen, en dit regkry. Ek flippen wens ek was daai ma. 

© HEKELWOORDE

5 Comments

Leave a Reply

error: Content is protected !!