Ek begin die laaste paar dae serious ongemak in my lyf ervaar, asof daar ‘n huilerigheid in my nerwe sit wat soos ‘n reuse dwarsbaba lê en vastrap aan die vliese van my hart. En dis nie lockdown nie, ook nie Cyril, of die knaende vermisting na die vashou van my mense nie. Die meer as dit – dis alles. Dis die besef wat begin insink dat hierdie woestyn waardeur ons stap dalk baie verder van die oase af is as wat ons onsself sou wou verbeel, dat die lewe soos ons dit geken het dalk weg gaan wees vir nog ‘n jaar of twee – of selfs deur nooit nie ingesluk gaan word.
Ek is nie reg vir hierdie nuwe lewe nie, ek wil omdraai en terughol uit die woestyn uit na waar dinge in Maart nog dieselfde was, en met ‘n sakdoekie al huilende die res totsiens groet en dan ingaan in my ou lewe in en daar vertoef vir altyd. Ek wil ‘n langtafel reël soos ek net ses maande gelede gedoen het, met liggies in die bome en mense wat in lang rye styf teen mekaar sit en glase cheers en mekaar se gesigte vat van omgee. Nou mag ek nie eers aan my eie gesig vat nie.
Verandering is my ding. Ek ry verskillende paaie werk toe, skuif my meubels, verf my mure, reinvent permanent een of ander faset van my menswees dat dinge interessant kan bly. Maar hierdie is nie dieselfde nie – hierdie verandering is soos Namibië se paaie wat lank en reguit aanhou in die aanhou in….sonder die vooruitsig van ‘n mooi duin of ‘n blou see aan die einde daarvan. Hierdie lewe voel soos ‘n bra wat te styf sit wat nooit uitgetrek mag word nie, of soos om elke dag in twee verskillende soorte van iemand anders se skoene te moet loop – dit sit nie lekker aan my lyf nie. Dit voel ontuis. As ek geweet het sou ek skraapsels van my ou lewe gaan bymekaarkrap het vir oulaas, in ‘n sakke om my nek gedra het – vir ‘n vashou en vertoef van daai lekkerte as die grond te hard raak.
Het ons ‘n keuse? Nee, ons het geen keuse nie. Moet ons aanpas as ons wil oorleef? Ja, vir seker. Maar vir hierdie week wil ek treur, omdat ek gedink het drie weke is net drie weke. Nou begin voel dit soos om iewers na ‘n lang vakansie op ‘n lughawe rond te hang terwyl jy wag om huis toe te gaan en die vlug word vertrag – eers vir dae, dan weke, dan maande…. terwyl jy elke dag in die regop moet sit, en stap, en eet, en leef. Omdat jy in die tussen-in moet asem haal.
Ek weet ons gaan ok wees, ons is altyd ok. Die mens is gemaak vir aanpas en oorwin. Maar ek verlang vandag na die lewe soos ek dit geken het, waar my kinders kon maats hê en uitgaan, en sport doen, en ons kon ophou werk omdat jy kon huis toe gaan. En ek aan my eie oë kon vat sonder om eers te spuit. Ek mis.
© HEKELWOORDE ™