Ek begin voel of ek deur die mure van Covid wil hol, en deurbars aan die ander kant en net bly hol. Ver ver weg van retrenchments, en zoom meetings en onwaarskynlike mense wat doodgaan, en mense wat in gasmasker langs oop gesigte wil staan, en skoonheidskompetisies waar deelnemers in lang rye op rekenaars moet loop.
Ek wil deur velde gaan hol en voor kanse slaap en deur die nag onder sterre swem en net flippen vry wees van hierdie nuwe liewe wat shit is en regtig suck!
Toe my boetie dood is was die oorwegende gevoel dat ek my voete wou stamp en die mother van alle trantums gooi, om my wil op die universe af te dwing tot sy ingee en hom terugbring. Maar helaas, sy het volgehou. En hy was weg.
En so voel ek nou. Ek wil soos ‘n mal mens skree dat my kleintongetjie tril dat ek gatvol is en vasgehou wil word! Ek wil mense twaalfuur die aand in die straat groet terwyl ons almal koebaai sê en vol wyn, tabak en liefde gaan slaap.
Ek wil iewers in ‘n ander provinsie op ‘n berg sit en my verbeelding oopspan en weet ek kan tot by Ysland reis as ek wou. Fliek kyk en nie voel hoe my hart bollemakiesie slaan as mense hande skud nie. Langs ‘n vreemdeling gaan sit en in hulle naby in hulle siele vashou van omee.
Ek wil in mense se space wees! My ouers vashou! Ek floreer teen mense se velle. Ek is gemaak om naby aan mense te leef, ‘n klein aura te hê, my hande uit te steek en mense te vat, vasgehou te word deur liefde, vreemde mense nader te trek en teen my hart te druk. Energie en lekkerte en reuke te ervaar, langer ingetrek te word as wat jy gedink het. Gesoen te word, ‘n sweetlyf nader te trek omdat liefde deur grense mag vat. Die wêreld se mense is my beminde.
Ek wil gevat wees, gevoel wees, mens wees, flippen normaal wees. Ek wil my wil op die universe afdwing en skree: Genoeg is Genoeg!
©HEKELWOORDE.