COMMIT TO SHIFT
Die eeu-oue les is dat in enige situasie waarvan jy nie hou nie jy drie keuses het – jy kan dit aanvaar (en ophou kla!), jy kan dit verander, of jy kan die situasie verlaat. Dis dit – maar jy moet ‘n besluit neem en shift,! Want as jy gaan bly voortpeuter en kla soos ‘n plaat wat vasgehaak het kan jy net sowel elke oggend jou Joy in die toilet gaan afspoel voor jou eerste koffie.
So waar laat hierdie post-apocalyptic dilemma na Lockdown ons in hierdie scenario? Daar is harde lang maer maande en jare wat in elke land voorlê, en vir jou om jou beste lewe te leef moet jy besluit hoe jy hierdie jare gaan leef – jy sal moet besluit, en hoe gouer hoe beter.
Jy is welkom om dit te doen as jy wil, maar ek persoonlik weier om hierdie nuwe realiteit te aanvaar. Om in vrees te leef steel my Joy, en om in woede te leef maak my ‘n bliksem in ‘n vel wat baie onlekker is vir ander mense – ek wil nie daai mens wees nie. En om te onderdruk werk ook nie, want iewers sal daai emosie weer soos lawa uitspring. So aanvaar sal daar nie aanvaar word nie – ek hou van geestelike beweging, vooruitgang, ek wil bly shift. So nee, ek gaan nie aanvaar nie.
Kan ek die situasie verlaat? Wel, as jy ‘n maanmannetjie is kan jy weer in jou piering spring en teruggaan waar jy vandaan gekom het, en as jou tyd op aarde amper verby is kan jy uitsien om in die heavenly fields onder ‘n peerboom te gaan sit. Maar tensy jy reg is om pap en wors, en jou ouers, en die grootste glimlagte in die wêreld vir altyd koebaai te waai en in ‘n ander land te gaan woon, is hierdie nou die hand wat ons gedeel is. Hierdie land wat so in sy moer in is. En ek gaan dit nie verlaat nie.
So kan ek dit verander? Ek kan nie die groter prent verander nie – kan nie drie miljoen mense se werke vir hulle teruggee nie, kan nie mense in tronke terugsit nie, kan nie daai gevreetlike vet selfsugtige taai handjies uit al die heuningpotte uitkry nie. Ek kan ook nie Corona afmaai nie. My arms is te kort vir al daai. Maar wat ek kan doen is ek kan shift – my houding (attitude) teenoor hierdie situasie kan ek shift – want ek wil my beste lewe leef.
Ek kan elke dag in dankbaarheid begin – vir klere, kos, ‘n dak, wiele, kinders, gesondheid, arms, ‘n brein, my kinders – die klein goed wat huge is kan ek soos ‘n fliek voor my afspeel elke oggend. My dankbaarheid soos ‘n soldaat elke tree voor my laat uitloop.
Ek kan my energie in elke dag gaan inspuit sodat die lewe weer kan begin beweeg – Lig saai sodat Hoop gebore kan word (nie hoop vir ander omstandighede nie, maar hoop vir ons mens se vermoë om op te staan uit omstandighede uit).
Ek kan begin oefen en genoeg slaap, dat ek elke dag my allermeeste kan insit, want insit maak mens gelukkig.
En ek kan planne bly maak om te bly vorentoe gaan.. maniere uitdink om anders te dink, nuut te praat, negatiwiteit te breek, mense se perspektiewe te verander. Ek kan soos ‘n groot towenaar met ‘n lang baard my arms lig, en in ‘n sidderende beweging goeie energie soos ‘n wind van Lig oor my wêreld laai waai – dis wat ek kan doen.
Ons het nodig om te shift. Binne ons realiteit die besluit te neem om soos groot geestelike reuse op te staan en bo ons liggame uit te troon, vorentoe te stap in die wilsbesluit om te oorwin – ons omstandighede te oorwin, maar ook onsself. Uit my eie pad uit te kom, dat ek kan beweeg.
So kom ons begin ‘n nuwe beweging – Commit to Shift. Hang ‘n strik in jou voortuin, of ‘n lap, ‘n klok, ‘n wapperende vlag van hoop. Hang dit sodat ander weet jys gereed om op te staan – vorentoe te gaan. Ready to fight this spiritual fight. Want ons nuwe land gaan IN ons lywe begin opstaan, nie buite ons lywe nie.
VANDAG.
#committoshift
© HEKELWOORDE