Ekke wag vir ‘n man. Nie ‘n drol met tierlantyntjies en emmersvol halwe probeers wat agter blink fluweelgordyne en baie eiendomme weggesteek word nie, net ‘n regte man.

Een wie se skoene al ver geloop het, en wie se penwortels diep in die aarde geanker is. Een wat al geleer het dat mens kan leer as jy bereid is om te lees en te luister, en wat lief is vir vashou en vat. Want die hele wêreld se mense kan liefgehê word met vashou en vat, ook ek.

En hy hoef nie te kan vleisbraai nie, of brood bak, of wiele omruil, of ‘n waentjie reverse nie. Maar hy moet ‘n tent kan opslaan en kan vuurmaak. En sterk langs een kan staan, want my draak se vuur is verwoestend… al is haar hart sag.

Die man wat ek soek se muscles hoef nie groot te wees nie, maar sy arms moet ordentlik kan vashou – my siel en my liggaam. En sy oë hoef nie meer goed te wees nie, maar hy moet weet watter kant toe is die Lig, en sy pad soontoe wil vind.

My man se kar hoef nie ‘n Ferrari te wees nie (dit moet asseblief net nie ‘n Ferrari wees nie!), maar hy moet ry wat by hom pas. As hy wilde hare het kan hy ‘n ou kombi ry, of as hy van ‘n stoppelbaard hou miskien ‘n Landy. Met niks gladgestrykte enigiets nie – nie hare of baadjie of oogplooie of enigiets nie. Want mans moet soos die aarde wees, tasbaar en real en lekker. En grof. Dat ons kan sag wees. En glad is anyway net te glibberig.

En hy moet kan vloek. Want ‘Ooo donner’ klink beter as ‘oepsie daaisie’, en ‘bliksemstraall’ sê beter as weerlig. En kan lag, dat die aarde dreun. Want mense wat kan lag se harte is oop, en hulle siele al ryp gedruk. En lekker kan eet, en musiek kan luister. En hy moet saam met my kan sit. En net sit.

En miskien leef sy vrou nog, of dalk fight hy iewers ‘n nog battle voor hy Huis toe sal kom. Maar ek sal my Lig vir hom aansteek, dat hy sy pad na my hart toe kan vind. En as ek hom sien sal ek weet. En ek sal hom vat, en liefhê. Want hy sal my toelaat om hom lief te hê. Al die dae van my lewe.

© Hekelwoorde van my Hart

error: Content is protected !!
Scroll to Top