hy was haar-eie-om-lief-te-hê
vas-aan haar-naby-gehou-vasgeklou
of armverte ver laat gaan
maar nooit te ver nie,
want van almal in die hele wêreld
moes hy net hare wees
asseblief-tog-niemand-anders-s’n-nie-net-hare.
saans in die maanlig
terwyl sy haar verstaar het aan sy mooi
het sy stukkies van haar hart uitgeryg
en aan syne vasgewerk
met die goue drade van haar Self
en so het sy hart al voller geword
en sy Mens al groter….
en haar hart al leër
en haar Mens al kleiner
tot haar hele wese
buite haar lyf rondgeloop het,
haar hele menswees
in die lyf van haar beminde
haarself
heeltemal verwelk
in haar liefhê van hom
later moes haar arms al langer –
want sy Vêr gaan al verder
sy luister al vlakker
want sy wegkyk al wegger
en die nag toe hy uiteindelik
haar vasklou van hom afgooi,
en die deur agter hom toetrek
het sy in haar leë huis met haar leë presence op die grond gaan geval en hom soos ‘n nagwind agterna gehuil…
skaduwee van niks
net ‘n asem weggesmyt –
van wegsmeltliefde…
en van haar blinkste gee
daai aand lees sy in die groot swart Boek: mens moet jou naaste net so liefhê soos jouself
daai aand besef sy wat Hy eintlik sê is: “My kind, mens moet JOUSELF altyd net so liefhê soos jou naaste”.
© Hekelwoorde
❣️