Die sluk van woorde wat gesê moet word . . . waar gaan lê daardie woorde as dit nooit gepraat word nie? Die muf van trane wat nooit gehuil word nie, die vuur van ʼn skree wat nooit geskree is nie. Die seer van stilbly en wegloop . . . waar gaan rank daardie hartseer in ons menswees vas? Die saal van ongesêde emosies, waar woon daardie plek in ons lywe? Die woorde wat nét soveel skade gaan doen as dit gepraat word as wanneer dit in jou lyf weggebêre word . . . wanneer en hoe moet daardie woorde gepraat word? Hoe keer ons dat geslukte woorde oor tyd ons kosbare harte versmoor en ons lywe verniel?
In my grootwordhuis kon ons drie kindertjies nog skaars oor die tafel kyk toe moes ons al ’n spreekbeurt tydens huisvergaderings hê. Ons moes ook terugpraat as ons raas gekry het, omdat my kosbare ma ons wou leer om dapper genoeg te wees om in ons waarheid te staan en dit te verdedig. En ons mag nooit presente gegee het om jammer te sê nie, omdat sy ons wou leer dat jammersê ’n saak van woorde is, nie ʼn saak van besittings nie. My ma het ons van kleins af geleer om die moed te hê om ons eie waarheid te bekyk en te leer ken, en sy het ons in daardie proses dapper genoeg gemaak om eerlik met ons waarheid om te gaan, al was dit hóé moeilik. As ek vandag terugkyk, dink ek dis waarskynlik een van die grootste geskenke wat sy vir ons as kinders kon gee.
Soos ons ouer geword het, moes ons later leer dat dapper net een van die juwele van die halssnoer van waarheid is, en toe begin om die wysheid te leer om met ons waarheid om te gaan – dat stilbly ook soms ’n manier is om in jou waarheid te staan. En so ook luister, vashou, wegloop en opstaan. Om die moed te hê om ons waarheid te deel, maar op so manier dat die wêreld ’n beter plek word en nie slegter nie – dít is die geskenk van wysheid wat slegs met tyd kom. Deur val en opstaan, en baie keer oor begin, foute maak, en die verloor van baie kosbare mense langs die pad.
My ma vertel my nou die dag dat vuur in die hart beter is as ’n uitgebrande kool, en dat mens oukei is solank jou woorde uit ’n plek van liefde kom, nie uit ’n plek van ego nie.
Dit sou goed wees as ek eendag my saal van ongesêde woorde in ’n tas kon pas, of in ’n brilhuisie, sodat my eie lyf kon leeg wees van ongesêde dinge teen die tyd wat ek die aarde mag verlaat. Maar bo alles is my wens dat die wag voor my mond wysheid sal bly leer. Sodat sy uiteindelik slegs met die reëls van die Lig my woordsoldate sal ontplooi, en altyd uit ʼn plek van liefde my waarheid oor die wêreld en sy mense sal kan saai.
© HEKELWOORDE