In my droomwêreld die jaar wil ek ‘n boyfriend hê. Een met ‘n six-pack en plooitjies om die oë, en ‘n brilletjie wat wys hy lees baie. En hande wat lekker kan vat, en vir my pesto en tahini en hummus kan maak.

Ek wil dun enkeltjies hê, en my lyf deur ‘n strooitjie kan pas. En myself uiteindelik in ‘n bikini in Truworths se spieël bekyk en dink: Wow, jou boude lyk fantasties!

Ek wil naels hê wat naellak vir ‘n week mooi hou, arms wat ver genoeg is om die menu te lees. ‘n Kamera wat se settings altyd reg is, WiFi wat nie stotter op Pinterest nie, en genoeg petrol in my kar om oor grense te kan ry en vêrplek mense te kan beleef.

En, ek wil daai karavaantjie hê… daai klein ronde blommetjies een wat maklik sleep en lekker slaap. En ek wil lekker en lank aan die voete van ‘n groot boom sit, en in ‘n vuur in kyk wat nooit kole maak nie.

En ek wil bene hê wat kan parkrun, en ‘n wynfontein in my agter jaart, en staalbedjies onder my pruimboom vir buite slaap, en ‘n tent wat self afslaan en in sy sak spring. En tuinliggies wat aanhou werk as die gassproeier aan was. In my droomwêreld sou ek dit graag alles wou hê.

Maar in die regte lewe wil ek net my eie lewe hê, met al my diere en kinders en vriende en familie. Om ou memories te vertel en nuwe memories te maak, en al laggend en huilend en real en saam ons waens deur die lewe se drif te trek

En met ‘n hart wat maklik vol sal raak, wil ek langbeen bo-op die berg van die lewe nog ‘n jaar se son sien opkom.

En, met my gesig na die Lig gedraai, al die dae van my lewe vreesloos leef, wawyd liefhê, en rotsvas staan. Dis al.

© Hekelwoorde van my Hart

error: Content is protected !!
Scroll to Top