My lekkerste lekker is om in ‘n bad te lê, met yang ylang en eucalyptus in die water, en my bril en ‘n boek, en ‘n kers, en myself. En ‘n geyser op steroids. En tyd. Dat my tone in oumense kan verander, en my dink kan gaan lê, en ek kan verdwaal in die blaaie se vertel. So diep en so lank soos nêrens. Net te lees.

En in my bed, met my wit lakens, en my skilderye en fotos teen die mure, en my kat by my voete. En my hond by die bed se voete. Met my Evernote en my koffie en my woorde en my veiligwees. En te skryf. Tot my hart skoongewas, gladgestryk, en weer in netjiese kompartemente weggepak is. Net te skryf.

Of buite onder my wingerd, op my houtstoele met opvouvoete. en as dit reën daar met Nataniël se rooiwynglas te sit, onder die klein sinkdakkie (spesiaal opgesit vir-reënsit-onder-‘n-klein-sinkdakkie), en net te luister. ‘n Kin van die skepping. ‘n Kind van vrede. Net te luister.

Of aan ‘n tafel. Met my geliefdes. en kerse en lag en musiek en buite en sterre en swembad en liggies en kos. En vuur. En net te lief.

Of op die bank. Met my lielie en my adi en ‘n movie en popcorn en stilwees en saamwees en luiwees. En net te belong.

Met lekkerste lekker is altyd by my. In my lyf. In my lewe. In my huis. By my mense. Net soos dit is. Om net te wees. Altyd, die lekkerste lekker.

© Hekelwoorde van my Hart ❣️

error: Content is protected !!
Scroll to Top