My vriend Jaco Vorster is ‘n dromer. Hy droom van mooi Mercedes Benze, ‘n moderne ou huis met ‘n Aga stoof en glasmure, net genoeg kamers dat die vrede altyd die aantal gaste sal kan inhol, hoë koorsbome wat welig hemel toe groei, en ‘n lewensmaat wat al die jaarringe van sy lewe sal kan deurstaan.

Soms droom ons saam oor die perfekte steak, of hoeveel botter mens op ‘n broodjie mag eet, of ons praat oor Hollandaisesous resepte of die mooi boom by daardie perfekte grondpad se afdraai. Ander kere oor eksotiese lande met kosname waarvoor dat nie klinkers in Afrikaans bestaan nie.

Maar meestal praat ons oor ons voel en oor mense, en dan praat ons oor die onsigbare wêreld van hoop. Want my vriend Jaco Vorster droom van ‘n pragtige Suid-Afrika, en meer spesifiek droom hy oor ons dorp. Ons Oudtshoorn.

Nie omdat ons paaie fantasties is, of ons munisipaliteit ons rates beheer of ons ondergrondse waterpype in stand hou nie. Ook nie omdat mens noodwendig meer in die middel van die nag alleen deur die strate kan loop, of omdat al die geld wat ingesamel word noodwendig ooit weer belê sal word in die dorp nie. Nope. Jaco Vorster en baie ander Oudtshoorniete soos hy glo in Oudtshoorn omdat ons onmiskenbaar glo in die mense van ons dorp, ons gemeenskap, en omdat die hoop van hierdie mense al ‘n vuur aan die brand gesteek het ‘n tjop sal kan gaarkry op braaidag, of mens se voete sal kan warmhou in die winter, of genoeg lig vir ‘n loadshedding se lees sal kan gee.

En soos die olimpiese fakkel het hierdie Hoop al deur ons strate begin vloei, en soos die riviere van die wêreld deur die harte van ons mense se are begin pols.

Ons het Hoop omdat daar soveel Oudtshoorniete begin eienaarskap neem het vir die drome van ons dorp. Omdat dames soos Harriet Samson en Anita Stanley en vele ander elke dag met ‘n lied in hulle hart opdaag om ons dorpsingang se tuine te versorg. Ons het hoop omdat iemand soos Madelein Miles die reWOLusie begin, en elke wolliefhebber en hekelpotensialis in Oudtshoorn kon kry om pen en drome in eie hande te neem en die dorp toe te hekel vir die KKNK, binne in ‘n Blou Fiesta toekenning in.

Ons droom groot oor Jaco se Trees of Hope projek waar ons 100,000 bome binne 5 jaar gaan plant – sodat óns dorp ook oor 20 jaar ‘n before en after op ‘n satelietfoto kan wees. Ons laat onsself toe om te Hoop oor iemand soos Susan Botha se Trash# projek waar besighede en inwoners van die dorp bymekaarkom en papiere in die riviere optel, omdat ons wil trots wees op al ons mooi.

Ons salute die mense soos Leon Campher se vertelkringe wat kinderhandjies op palisade saam met ander gaan verhewig, sodat inwoners sal wil hê die heining langs die pad moet bly en nie sal wil hê dit moet wegdra nie. Mense soos Jan en Annelize Vlok wat tuinprentjies vir ons hele dorp se straattuine gedroom en elke dag in die regtig dit lewendig begin maak. ‘n Kunstenaar soos Fonnie Alfonso wat vra vir verf sodat hy sy mooi graffiti op ons lelike mure kan begin mooi. Ludwig Swanepoel wat in sy eie tyd die bome snoei en die takke se lyne begin rigting wys.

Die lys van mense in ons dorp wat met hulle eie aksies voor stap gaan aan en aan. Mense wat opdaag om bome water te gooi. Mense wat steggies maak om bome te skenk. Mense wat opdaag met grawe om net die gate te grawe.

En daarom mag ons droom. Daarom mag ons Hoop. Want ons môre is veel groter as ons nou, en ons Moed veel groter as ons Opgee.

Oudtshoorn is deur ons mense ingeskryf vir Kwêla se dorp van die jaar. Nie oor hoe dit nou is nie, maar oor die mense van die dorp se commitment oor hoe dit gaan wees.

Want ons môre is veel groter as ons nou. Ons drome veel groter as ons probleme. En ons Moed is veel groter as ons Opgee.

So as jy nie weet vir wie om te hoop nie, Hoop vir Oudtshoorn. As jy nie weet vir wie om te stem nie, kom droom en hoop dan gerus saam met ons.

Oudtshoorn dorp van die jaar sms Oudtshoorn aan 33157 #ekisoudtshoorn

© Hekelwoorde van my Hart

error: Content is protected !!
Scroll to Top