(krrrrru taal, so blaai asb verby as jy ‘n sensitiewe leser is, of vir my gaan preek daaroor)
“GEFOK MAAR GEFOKUS.” So eindig hierdie drie woorde hierdie week in my inbox van Stefanie Keyser af. Powerful shit.
Ek verbeel my as jy besig is om jou besigheid te verloor en iemand vra jou hoe dit gaan, kan jy beleefd antwoord en sê: “gefok, maar gefokus”. Of as jy jou been in ‘n krul gebreek het na ‘n fietsval teen ‘n gletser af, en vriende kom kuier in die hospitaal en vra hoe dit gaan, kan jy sê: “gefok, maar gefokus”. As jy die geveg van jou lewe teen fase 4 kanker veg, en jou bestie bel om te vra hoe dit gaan, kan jy sê : “gefok, maar gefokus. As jou vrou met die skoolhoof wegloop en die kinders saamvat, en iemand kom met ‘n bak lasagne by jou huis en vra hoe dit gaan, kan jy sê: “gefok, maar gefokus”.
Om vir iemand wat jou vra hoe dit gaan te sê “dit gaan goed” terwyl jy suffer, is bitter ordentlik maar baie unauthentic – eintlik ‘n blatante leuen. Daardie persoon wat belanggestel het gaan wegloop en geen idee hê hoe dit regtig met jou gaan nie. En om vir iemand wat vra hoe dit gaan te sê “dit gaan ellendig sleg, ek huil elke aand myself aan die slaap en trek my toonnaels af in die bad”, is te veel inligting …. en dalk meer as wat ‘n vêrlangse vreemdeling sal wil hoor. Al is dit waar.
Die middeweg? Die middeweg is “Gefok, maar gefokus”. Want dit sê alles, die hele storie in drie woorde. Dit sê eks in my moer, oor die krans geval in my glory in. Maar dit sê ook ek is ok, reg vir die challenge, en ek is staande. Ek is gefok maar gefokus. Moertoe maar Moedig.
So al is dit skreeulelike taal is dit skreeufantasties effektief. Geskik vir jou arsenaal van magtige woorde. Want dit gee enorme agting aan die magtelose ellendige posisie waarin jy jou bevind, maar terselfdertyd gee dit volle krag aan jou vermoë en jou intensie om dit te oorwin.
So hoe gaan dit met jou? Gefok maar gefokus, dankie. En met jou?
© HEKELWOORDE™