Hierdie bababers het die woorde van die baie spesiale gedig van My Kind op – die woorde van die liefde en gebede waaronder ons wil hê liefkinders moet slaap. Dis mammasag, en 1.2m x 1m groot.
“aan die einde van die reënboog
het ek jou gaan haal, my kind
jou dwars onder my hart gebêre
en jou huis toe gebring
onder die strale van die maan
het ek jou vasgehou
en gevoel hoe jou slaaplyfie
al hoe meer mens word teen my bors
onder die engele se lig het ek jou laat grootword
jou naelstring begin rek
en jou onsigbaar aan my vasgemaak met gebed
ek wil jou toevou en in ’n bondeltjie bêre
net hier veilig by my
ek wil jou hele lyf met my arms omsingel
teen die wêreld
ek wil jou hart in ’n kasteel
op die hoogste piek in ’n glaskas gaan toesluit
waar net ’n engel uit die Lig uit sal kan neerdaal en dit oorwin
ek wil jou lag in ’n klokkie aan my ore hang
jou geluk in ’n ring aan my vinger dra
jou lekkerkry in ’n glasie om my nek
ek wil my voete voor joune laat uitloop
met my oë vir jou mense se harte voel
met my hande jou paaie gelyk maak
jou wese is die hoofslagaar van my hart, my kind
jou hartklop elke dag my grootste geskenk
jou koms die goud en mirre en kleur in my menswees
liewer as die liefste lief het ek jou lief my kind
liewer as die liefste lief
het ek jou lief
my kind”
© hekelwoorde